Die
huwelik is die
Goddelike instelling wat die Here beplan het tussen een man en een vrou.
Lewenslank - wonderlik! Ek sou kon kies uit baie verskillende skrifgedeeltes
om iets oor die huwelik te deel, maar het besluit om gedeeltes uit
Hooglied te gebruik. Luister hierna:
Hooglied 4 : 9 - 15
9 Jy het my hart gesteel, my
beminde bruid, jy het my hart gesteel met een kyk van jou oë, met
een skakel in die ketting om jou hals. 10 Ek hou van jou liefkosings,
my beminde bruid, jou liefkosings is beter as wyn, jou parfuum ruik
lekkerder as al die lekkerruik-kruie. 11 Jou lippe proe soos
heuningstroop, my bruid, jou tong soos heuning en dikmelk, en jou
klere ruik soos die Libanon. 12 My beminde bruid is 'n tuin wat
toegemaak is, 'n tuin met 'n muur om, 'n fontein wat afgekamp is. 13
Jou liggaam is 'n lushof, granaatbome met keurige vrugte,
hennastruike saam met nardus, 14 nardus en saffraan, kalmoes en
kaneel saam met elke soort lekkerruik-kruie, mirre en aalwyn saam
met al die beste lekkerruik-kruie. 15 Daar is 'n fontein in my tuin,
'n put met borrelende water, strome van die Libanon af.
Hooglied 5 : 10 - 16 Die man wat ek liefhet, is
blakend gesond en blosend van kleur; jy kan hom uitken tussen tien
duisend ander. 11 Sy voorkop is soos suiwer goud, sy haarlokke soos
dadeltrosse, so swart soos 'n kraai. 12 Sy oë is soos die duiwe
langs die spruite, duiwe wat lyk of hulle in melk gewas is waar
hulle langs die water sit. 13 Sy wange is soos die kruiebeddings
waar lekkerruik-kruie groei. Sy lippe is soos lelies, hulle drup van
mirre. 14 Sy hande is soos stawe goud, met edelstene ingelê. Sy lyf
is soos 'n blok ivoor, met saffiere ingelê. 15 Sy bobene is soos
marmerpilare wat op goue voetstukke rus. Sy voorkoms is soos dié van
die Libanon, indrukwekkend soos die seders. 16 Sy mond smaak soet,
alles aan hom is begeerlik. So lyk die man wat ek liefhet, so lyk my
lewensmaat, vroue van Jerusalem.
Ek het onlangs Hooglied (dit beteken mooiste lied)
deurgelees en dit was vir my so ongelooflik mooi. Salomo beskryf in
hierdie boek die ongelooflike mooi verhouding tussen man en vrou.
Twee mense wat hulle liefde en verlange na mekaar so wonderlik
teenoor mekaar uitspreek.
Weet jy, ek sien in Hooglied regte, egte ware
liefde. Hierdie gevoel vir mekaar wat so eie is aan 'n pasgetroude
paartjie. 'n Bewondering vir mekaar, wedersydse respek, 'n pragtige
verering wat hulle vir mekaar het. Hierdie warm gevoel vir jou
lewensmaat wat enige ander gevoel oortref. 'n Man en vrou wat net
die mooiste vir mekaar te sê het. Hierdie gevoel wat op sy toppunt
kom pas nadat 'n paartjie getroud is. Hierdie gevoel wat so baie
mense later tot niet laat gaan.
Die huwelik, 'n instelling van God, wat Hy so mooi
bedoel het. Sommige Bybel verklaarders glo dat die boek Hooglied 'n
dubbele betekenis het. Aan die een kant, dat dit 'n beeld is van
Christus se liefde vir sy kerk, en andersyds 'n doodgewone
verhouding tussen 'n man en vrou. Hierdie boek verseker ons egter
dat die liefdeslewe tussen een man en een vrou, binne God se wil is.
Die Here het vir jou en jou huweliksmaat net die mooiste bedoelinge.
God wil ook hê dat AL die fasette van die huwelik mooi en aangenaam
moet wees.
Ek self het die wonderlike voorreg gehad om uit 'n
huis te kom waar my ouers vir 53 jaar gelukkig getroud was, en ek is
self sedert 1981 reeds in 'n wonderlike, liefdevolle huwelik. Ek loof die
Here daarvoor! Maar nou vra ek die vraag: Wat gebeur met hierdie
romantiese, mooi verhouding? Weet jy dat meer as 60% van huwelike in
die skeihof beland? Is jou huweliksverhouding nog soos dit 'n
klompie jare gelede was?
Weet jy hoe belangrik is die huwelik vir
God? So belangrik dat Hy Sy liefde vir Sy kerk (ek en jy), vergelyk
met die huwelik.
Efesiërs 5 : 25 - 32 25 Mans, julle moet julle
vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor
afgelê het. 26 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy
dit met die water en die woord gereinig het, 27 sodat Hy die kerk in
volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets
dergeliks, heilig en onberispelik. 28 Die mans behoort hulle vrouens
so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het
homself lief, 29 want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat
nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk
doen 30 omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is. 31 Daar staan
in die Skrif: Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en saam
met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees. 32 Hierin lê daar 'n
diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die
kerk.
Dit is God se bedoeling vir my en jou.
Spreuke 5 : 15 "Jy het tog self 'n vrou, jy het tog
self 'n put met water, drink die strome uit jou eie fontein."
Hoe kan ek en jy weer die verhouding in ons eie
huwelike herstel? Hoe maak ons dit weer soos in Hooglied?
· Erken dat God die huwelik ingestel het tussen een
man en een vrou. "Till death do us part".
· Gaan ontdek weer daardie vonk wat julle aanvanklik bymekaar
gebring het.
· Sien weer die mooi en goeie in mekaar.
· Vrouens, behandel jou man asof hy die grootste held in jou lewe
is. Maak dit vir hom moontlik om die held te wees.
· Mans, respekteer jou vrou. Wees lief vir haar, soos wat Christus
vir Sy kerk lief is.
· Maak vandag vir jou huweliksmaat spesiaal - stuur 'n mooi sms; koop blomme;
maak vir hom sy gunsteling kos; tap badwater in vir mekaar; was haar
kar; ens.
· Moenie toelaat dat eksterne faktore jou huwelik vernietig nie,
soos drank of ander afhanklikhede. En as 'n ander party by die werk
dalk te aantreklik raak, lees Spreuke 5 : 15 - 20. Ek wil jou
uitdaag om vandag daarmee klaar te maak.
· Bid gereeld vir jou huwelik en jou maat. Daar is mos 'n
uitdrukking wat sê: "Pray together, stay together"
· Gaan lees die boek Hooglied saam
deur - doen dit met rollespel - soos in Hooglied.
· Bevestig jou huweliksbelofte aan mekaar.
· Sê vir mekaar dat julle lief is vir mekaar.
'n Man het nodig om erkenning te kry as hoof van die
huis. 'n Vrou weer, wil graag soos 'n koningin behandel word. Gee
vir jou huweliksmaat wat hy of sy nodig het om te floreer.
Geniet jou huwelik!

Willem & Wilna; 28 November 1981 |